rosigemaryn

Suburbia

Archive for the tag “GESKIEDENIS”

FOR KING AND COUNTRY, VIR VOLK EN VADERLAND

As ons Christene oorlog maak, is die Here altyd aan ons kant. As Christen nasies oorlog maak teen mekaar plaas dit die Here in ‘n moeilike posisie, want altwee kante bid vir Hom vir oorwinning teen die vyand. Neem nou maar die Anglo-Boere Oorlog….wag ek loop nou die storie vooruit.

 

Sondagoggend is ek en Wynruit vroeg uit die vere, en gewapen met ‘n fles koffie en toebroodjies, kaartboek, kamera en toegerus met bietjie navorsing, die pad af Heidelberg toe. Die rede is bloot om geskiedkundige redes en om die argitektuur, kerke en begraafplase van nader by te beskou en te ondersoek.

 

Daar gekom het ons eerstens die konsentrasiekamp grafte besoek, wat maar baie verweer is en waarvan die kopstene onleesbaar is. Toe is ons die dorp in, waar ons AG Visser se bronsbeeld voor sy huis besoek het en die winkel van die dorpstigter, die Duitser, HJ Ueckermann, wat die dorp na sy Heimat, Heidelberg, vernoem het. Ons het ook die pragtige sandsteen, NG Klipkerk (1890) besoek. Daarna die St. Ninian’s Anglikaanse Kerk (1882).

 

Ons beland toe later by die ou tronk (1888) in Jordaanstraat. Die ou tronk is nie meer in gebruik nie en ook nie oop vir die publiek nie,maar word deur die Moths bedryf as ‘n bymekaarkom plek. Daar is toe per toeval mense by die tronk wat opruim na ‘n funksie die vorige aand en wat ons baie vriendelik toe in nooi. Nog bloot net gehoor van die storie van Salmon van As, maar hier tussen die tronk se mure, kry sy storie toe gestalte.

 

 

 

 

Veldkornet Salmon van As het gedurende 1901 ‘n Britse offisier doodgeskiet, en is gevangene geneem. Dit blyk dat hy in hierdie tronk aangehou is as krygsgevangene. Vroeg in 1902 het daar baie Britse soldate gesterf in veldslae in die omgewing en is die arme Van As vinnig aangekla en skuldig bevind aan moord. Hy is op ‘n koue wintersdag op 23 Junie 1902 teen die agtermuur van hierdie tronk voor ‘n vuurpeleton gesit en is doodgeskiet. Die plek waar hy gestaan het is teen die agtermuur aangedui met wit verf.

 

 

 

 

Van naderby beskou kan die koeelmerke nog in die sandsteen gesien word. Sy familie is kort na die oorlog deur die Britse regering kompensasie aangebied en het erken dat Van As ‘n onregverdige verhoor en straf gekry het. Sy familie het dit met minagting geweier.

 

Ons laaste besoek was aan die ou begraafplaas naby die ingang van die Heidelberg Kloof. Dit was, synde ‘n mistige en reenerige oggend, die perfekte tyd om nog ‘n begraafplaas te besoek. Tog spreek die begraafplaas van rustigheid en ‘n eienaardige gevoel van samehorigheid tussen die dooies onder die bome en dik mat denne naalde.

 

En hier le al die karakters van die dorp vreedsaam. Al wat hulle onderskei van mekaar is die verskillende stories soos ge-ets op die grafstene. Stories van opoffering, strewes, pyn, patriotisme en godsdiens.

 

Daar is die Ueckermans:

 

 

 

Die Britse soldate wat ”for King and Country” in ‘n vreemde land gesterf het (onder andere Van As se slagoffer):

 

 

Van As ook:

 

 

 

 

Tot oorlewendes van Bloedrivier wat hier herbegrawe is:

 

 

En ook AG Visser:

 

 

 

Toe die son draai is ek en Wynruit terug Johannesburg toe. Ons praat oor ou vyande wat mekaar koeelbloedig doodgemaak het en wat nou ‘n stille samesyn in die dood het.

 

En ons praat oor Salmon van As.

 

ROSIGEMARYN (HEIMWEE NA ‘N VERGETE SOLDAAT

* Hierdie is ‘n ou pos van ‘n vorige forum

Post Navigation