rosigemaryn

Suburbia

Archive for the month “Augustus, 2012”

WESPARK

In my laaste pos het ons ‘n pelgrimstoggie aangepak in die voetspore van Herman Charles Bosman.

 

Vandag het ek en Wynruit Wespark aangepak in ons soeke na Bosman se graf. Grafnommer 3942/3, Section DRM, Block A, cnr Second Avenue and Second Road.

 

Gewapen met ‘n bos rooi rose uit my tuin (want ons gaan familiegrafte ook opsoek), soek ons bietjie maar kry Bosman se graf redelik maklik. 

 

 

Nou ja, hier rus “Herman Charles Malan Bosman Edgar Allen Percy Bysshe John Francois Oscar Fingal O’Flaherty Wills de Sade Rossetti Dante Shakespeare Oliver Onions. And he had a sister, night, and a brother, desert. And he was educated, in his own soul, by fine fires.”-Gordon Vorster

 

‘n Donker siel, klaarblyklik gebore uit ‘n bloedskendige verhouding tussen sy ma en haar broer, Charles Malan. Waarskynlik ‘n reeksmoordenaar, behalwe sy stiefbroer wat hy doodgeskiet het, ook die talle aborsies wat hy op die vroue in sy lewe laat doen het, op sy aandrang.

 

In my opinie wou hy nie sy gene voortplant nie, want hy het vermoed dat hy ‘n bloedskendige kind is, maar het ook geweet en gespog daaroor, dat hy waansinnig is. Hy het immers al wat skrywer en digter was gekritiseer, omdat hulle nie “touched by madness” was nie.

 

Ek dwaal af, maar wie is langs hom begrawe?

 

 

 

Almal wat hou van die Oom Schalk Lourens-stories, sou dink dat dit ‘n logiese en romantiese einde aan beide se lewens is.

 

Tog wonder ‘n mens wat Herman Charles Bosman hiervan sou dink. Ek dink Bosman draai in sy graf om. Kyk wat het hy byvoorbeeld te se gehad oor die volgende beroemde skrywers.

 

Vir T S Eliot en Britse digters het Bosman geprys maar was van mening dat “Ultimately mine is more kindly attitude than theirs: It lets Mr. Eliot know right away where he stands.”

 

Vir George Bernard Shaw het hy beskou as ‘n “poseur”.

 

Shakespeare het blykbaar gefaal in die waansin van die digter omdat hy Othello vir Desdemona vermoor het omdat hy vermoed het sy pleeg owerspel. Bosman het gedink dit sou beter gewees het as die moord gepleeg is, bloot omdat hy haar liefgehad het, of bloot net omdat hy wou, of vir die pret daarvan.

 

Toe Uys Krige vir Bosman ‘n gedig stuur vir publikasie in of die Touleier of die LSD (kan nie onthou nie), het Bosman geantwoord:

” Beste Uys, Het bietjie griep gehad. Jou gedig is kak. Groete, jou vriend, Herman.” 

 

Bosman wat armoedig gelewe en gesterf het, omdat hy geglo het dat rykdom nie by ‘n ware kunstenaar pas nie, sou Mynhardt as ‘n parasiet beskou het wat op Bosman se rug gery het. Ek glo Mynhardt was ‘n akteur, kunstenaar en karakter in eie reg, maar glo nie Bosman sou dit so gesien het nie want hy was nie “Baudelaire” genoeg nie, of miskien was hy. Hy het immers van Bethulie af gekom met ‘n Afrikaanse pa en Skotse ma.

 

Finis.

 

ROSIGEMARYN (GRAF BESOEKER) 

 (‘n Ou Pos van ‘n vorige forum)

 

BOSMAN MIDDAG

Wynruit het vanmiddag reeds vroeg klaar gewerk. Ek betrap hom dat hy heel geheimsinnig die Johannesburgse padkaartboek soek en die GPS uitgrawe. Hy se dat ek my werk moet klaarmaak want ons gaan bietjie rondry.

 

Ek merk dat hy ‘n klomp adresse neergeskryf het. Al die adresse is aan die oostekant van Johannesburg, ons kant van die dorp.

 

Uiteindelik trek ek dit toe uit hom uit dat ons ‘n bietjie in Herman Charles Bosman se spore gaan loop.

 

Wynruit het my die waardering vir Herman Charles Bosman se skryfwerk geleer. In my opinie fassineer Herman Charles Bosman se persoonlike lewe my meer. Hy was ‘n aardsboheem wat geen respek vir reels en die establishment gehad het nie. Hy was, om dit onomwonde te stel, ‘n menace to society, tog ‘n kleurvolle een.

 

Ons soek toe heel eerste nommer 14 Gracestraat, Jeppestown. Dit is waar Bosman gebly het nadat hulle uit Potchefstroom getrek het. Hy was toe 13 jaar oud in 1918. Die GPS kon ons nie tot by die adres toe lei nie, want Gracestraat is op plekke toegemaak en die naaste nommer wat ons kon kry was nommer 24. Vind toe dat waar nommer 14 moes wees is daar nou lae koste behuising en is dit ‘n slum area. Net om die hoek, kom ons op hierdie juweeltjie af. Seker maar die hoek kafee gewees waar Bosman lekkergoed gekoop het (of sy eerste sigaret).

 

 

 

 

Hy was ‘n skolier by Jeppe Preparatory (toe genoem Jeppe Central) en van 1919 was hy in Jeppe High (nou Jeppe Boys High) en dit is hoe dit nou daar lyk. Nog steeds ‘n goeie skool met ‘n wonderlike tradisie.

 

 

 

Ons volgende stop was 19 Isipingostraat in grillerige Yeoville. Hierdie adres is van uiterste belang in Bosman se geskiedenis aangesien dit die huis is waar hy sy stiefbroer David Russel doodgeskiet het op 19 Julie 1926. Hy is skuldig bevind, het die doodstraf ontvang maar is later begenadig (vandaar sy wonderlike Cold Stone Jug). Beter geluk die keer en op links is die huis soos hy vandag lyk en op regs is die polisie foto van die misdaadtoneel binne in die huis. Wonder of die Nigeriers wat daar woon van hierdie feit bewus is.

 

 

 

Ons volgende adres wat ons soek is 16 Sovereignstraat, Kensington. Teleurstelling. Daar is meenthuise opgerig waar die huis moes wees.

 

 

 

 

 

Gelukkig is die kompleks ook na ‘n skrywer vernoem en die ironie van die saak is dat Bosman van hierdie adres getrek het na Miltonstraat Lombardy Oos waar hy ‘n kort rukkie gebly het tot met sy dood in 1951. Hierdie adres kon ons nog nie opspoor nie.

 

Ons wandel dalk elke dag onbewustelik in sy voetspore en deel tien teen een sy ou watergat synde die Radium Beer Hall, een van die oudste kroee in Johannesburg. Hy en sy drinke broer en mede boheem, die kunstenaar en skrywer, Gordon Vorster het na oorlewering gereeld daar gekuier in die dertiger jare, net om daarna in ‘n beskonke toestand Sylvia’s Pass uit te stap. Bosman het beweer daar is spoke in die klippe van die pas. Ons bly nie ver van die bopunt van die pas nie. Ons huis is in die dertigs gebou en was die buurt destyds nuut. Hy het ook tien teen een voor ons huis verby gestap op pad Saratoga Court toe in Bellevue omdat hy byna nooit ‘n kar gehad het nie.

 

Hoe dit ookal sy, ek en Wynruit het ‘n mooi sagte namiddag gehad en het nog ‘n klomp adresse op die lys, navorsing om te doen en ‘n begraafplaas om te besoek.

 

Soos Gordon Vorster van sy vriend gese het:

 

“Bosman was a man, a woman, an angel, a devil, a tenderness, a cruelty, a brave man and a coward, an emasculated satyr, a womaniser, a racist and a liberal. He searched for purity in filth, and, like Wilde, found stars in the gutter.”

 

 

 

 

ROSIGEMARYN (BOHEEM)

FOR KING AND COUNTRY, VIR VOLK EN VADERLAND

As ons Christene oorlog maak, is die Here altyd aan ons kant. As Christen nasies oorlog maak teen mekaar plaas dit die Here in ‘n moeilike posisie, want altwee kante bid vir Hom vir oorwinning teen die vyand. Neem nou maar die Anglo-Boere Oorlog….wag ek loop nou die storie vooruit.

 

Sondagoggend is ek en Wynruit vroeg uit die vere, en gewapen met ‘n fles koffie en toebroodjies, kaartboek, kamera en toegerus met bietjie navorsing, die pad af Heidelberg toe. Die rede is bloot om geskiedkundige redes en om die argitektuur, kerke en begraafplase van nader by te beskou en te ondersoek.

 

Daar gekom het ons eerstens die konsentrasiekamp grafte besoek, wat maar baie verweer is en waarvan die kopstene onleesbaar is. Toe is ons die dorp in, waar ons AG Visser se bronsbeeld voor sy huis besoek het en die winkel van die dorpstigter, die Duitser, HJ Ueckermann, wat die dorp na sy Heimat, Heidelberg, vernoem het. Ons het ook die pragtige sandsteen, NG Klipkerk (1890) besoek. Daarna die St. Ninian’s Anglikaanse Kerk (1882).

 

Ons beland toe later by die ou tronk (1888) in Jordaanstraat. Die ou tronk is nie meer in gebruik nie en ook nie oop vir die publiek nie,maar word deur die Moths bedryf as ‘n bymekaarkom plek. Daar is toe per toeval mense by die tronk wat opruim na ‘n funksie die vorige aand en wat ons baie vriendelik toe in nooi. Nog bloot net gehoor van die storie van Salmon van As, maar hier tussen die tronk se mure, kry sy storie toe gestalte.

 

 

 

 

Veldkornet Salmon van As het gedurende 1901 ‘n Britse offisier doodgeskiet, en is gevangene geneem. Dit blyk dat hy in hierdie tronk aangehou is as krygsgevangene. Vroeg in 1902 het daar baie Britse soldate gesterf in veldslae in die omgewing en is die arme Van As vinnig aangekla en skuldig bevind aan moord. Hy is op ‘n koue wintersdag op 23 Junie 1902 teen die agtermuur van hierdie tronk voor ‘n vuurpeleton gesit en is doodgeskiet. Die plek waar hy gestaan het is teen die agtermuur aangedui met wit verf.

 

 

 

 

Van naderby beskou kan die koeelmerke nog in die sandsteen gesien word. Sy familie is kort na die oorlog deur die Britse regering kompensasie aangebied en het erken dat Van As ‘n onregverdige verhoor en straf gekry het. Sy familie het dit met minagting geweier.

 

Ons laaste besoek was aan die ou begraafplaas naby die ingang van die Heidelberg Kloof. Dit was, synde ‘n mistige en reenerige oggend, die perfekte tyd om nog ‘n begraafplaas te besoek. Tog spreek die begraafplaas van rustigheid en ‘n eienaardige gevoel van samehorigheid tussen die dooies onder die bome en dik mat denne naalde.

 

En hier le al die karakters van die dorp vreedsaam. Al wat hulle onderskei van mekaar is die verskillende stories soos ge-ets op die grafstene. Stories van opoffering, strewes, pyn, patriotisme en godsdiens.

 

Daar is die Ueckermans:

 

 

 

Die Britse soldate wat ”for King and Country” in ‘n vreemde land gesterf het (onder andere Van As se slagoffer):

 

 

Van As ook:

 

 

 

 

Tot oorlewendes van Bloedrivier wat hier herbegrawe is:

 

 

En ook AG Visser:

 

 

 

Toe die son draai is ek en Wynruit terug Johannesburg toe. Ons praat oor ou vyande wat mekaar koeelbloedig doodgemaak het en wat nou ‘n stille samesyn in die dood het.

 

En ons praat oor Salmon van As.

 

ROSIGEMARYN (HEIMWEE NA ‘N VERGETE SOLDAAT

* Hierdie is ‘n ou pos van ‘n vorige forum

MET EISH!

As iets vir jou volksvreemd is, kan dit nogal lastig raak. Vat nou maar ons Malawiese tuinman. Van sneeu weet die man so min soos ‘n kat van safraan.

Rosigemaryn het rede om te vermoed dat sneeu nou nie juis groot in Malwië is nie. Laas toe dit hier gesneeu het in 2007, was hy in Malawië om familie te besoek. Toe daar vanoggend so regte poeiersneeu op Casa Rosigemaryn begin neerdaal het Tuinman die gebeure met verwondering aangestaar.

Nou Tuinman is ‘n goeie tuinier, betroubaar en neem sy plig om die tuin netjies te hou baie ernstig op. Die sneeu op die grasperk het om egter heel onkant gevang.

Toe dit ophou sneeu, bekyk hy die wit grasperk lank en intens en mompel toe:” Eish, there is a lot of work to do today.”

Toe ek ‘n rukkie later deur die venster loer sien ek Tuinman gewapen met tuinbesem, graaf en swart asbliksakke, hard besig om die sneeu bymekaar te vee en dan netjies in ‘n sak te verpak.

Eish, say no more!

Post Navigation