rosigemaryn

Suburbia

DIE BLINDE SAMBOK

Om met name en identitieite te peuter is ook maar soms ‘n onding. Vat nou maar die strorie van Jan-Hendrik.

Jan-Hendrik is so arrogante kollega van my en Wynruit, wie ons maar moet duld vanwee werk en sosiale omstandighede.

Jan-Hendrik kom uit ‘n vername familie. Geslagte lank word die oudste seun Jan-Hendrik gedoop en is uit die aard van sy naam die erfgenaam van die familieskatte en die bevoordeelde van Trusts deur Oupa’s geskep.

Na ‘n paar doppe op ‘n partytjie ‘n paar jaar gelede vertel Jan-Hendrik vir Rosigemaryn dat hy eintlik ‘n ouer broer het met die naam van Pieter.

Nou Pieter is blykbaar ‘n gesonde man, maar erg vesrtandelik gestremd en word in ‘n inrigting versorg. Rosigemaryn en al die vriende en kollegas het nie van die bestaan van Pieter geweet nie.

Hy het my verder vertel dat sy gestremde broer Pieter, eintlik as Jan-Hendrik gebore, geregistreer en in die kerk gedoop is in die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees.

Hy wat Jan-Hendrik is ingelyks gebore en gedoop as Pieter sowat 18 maande later.

Toe die ouers agterkom dat die klein kroonprinsie, Jan-Hendrik (nou Pieter) nie aan hulle verwagtinge gaan voeldoen nie, is daar die besluit geneem om die seuns se name om te ruil.

Nou Jan- Hendrik (gedoop Pieter) is deur sy ma op die ouderdom van 4 of 5 vertlel dat daar ‘n brief deur die pos gaan kom. Van daardie dag sal hy nie meer Pieter heet nie, maar wel Jan-Hendrik. Hy het nie vrae gevra nie en dit aanvaar.

Toe die brief van Binnelandse sake kom, was die seuns onderskeidelik 6 en 8 jaar oud. Van daardie dag af, was Jan- Hendrik, Pieter en Pieter was Jan- Hendrik.

Intussen het ons kollega ook pa geword van ‘n seun en ‘n dogter. Die seun se naam was uit die aard van die saak Jan- Hendrik en hy is nou so 4 jaar oud. Gister hoor Rosigemaryn deur ‘n gemeenskaplike kennis dat die klein Jan-Hendrik gediagnoseer is met dieselfde sindroom as sy Oom Pieter. Die sindroom loop blykbaar in die familie.

Nou die dag roep iemand uit: ”Pieter!”. Rosigemaryn kon nie help om te sien dat Jan-Hendrik omkyk nie.

ROSIGEMARYN (WAT IS IN ‘N NAAM?)

 

Advertisements

MAZEL TOV!

Om Ou-Testamenties te leef is nie maklik nie. Vat nou maar die Chabad Jode. Hulle bestaan uit die Lubavitches en die Hasidich Jode.

Hier woon baie in ons omgewing en in ‘n nabygelee buurt. Gawe mense en baie gasvry en nie skaam om bietjie te” L’chaim!” met hulle voorliefde vir whiskey nie. Maar ai, hulle Ou Testamentiese reels maak ook maar hulle daaglikse lewe moeilik.

As dit egter by die Sabbat (Shabbat) wat van sononder op ‘n Vrydag na sononder op ‘n Saterdag strek, dan bars hierdie mense eers. Die Talmuth se jy mag nie vuurmaak op die Shabbat nie. In die moderne tyd beteken dit dat jy nie ‘n lig aansit, ‘n voertuig bestuur of ‘n stoof aanskakel nie, dus geen elektriese aparaat gebruik nie.

Ons Chabad vriende is darem ook vindingryk ten einde die sonde te vermy. Vrydagmiddag word die tydskakelaars gestel om die ligte aan en af te sit ten einde te keer dat die Saterdagmiddag maal nie verbrand nie. Alles onder beheer.

‘n Ander probleem is dat jy op die Shabbat net ‘n sekere aantal tree mag loop buite jou huis. Dus word kortpaadjies gesoek na die naaste Sinagoge of die Schull toe.

Nou, die probleem het toe begin met Miesies Jones se sekuriteitsliggie hier oorkant die pad, julle weet daardie tipe lig wat deur beweging geaktiveer word. As jy in die straat verby die huis stap op ‘n Vrydagaand gaan die lig aan. Met ander woorde jy steek vuur aan en pleeg sonde. Die probleem is gerapporteer aan en gedebatteer met die Rabbi.

Sy opinie is dat jy weet dat as jy by daardie huis verbystap, sal die lig aangaan, steek jy dus vuur aan en pleeg sonde. Die tree is te min vir die lang blokke in die buurt en ‘n ompad kan nie bekostig word nie. As jy nie by die Schull of sinagoge uitkom nie, pleeg jy ook sonde.

Die deputasie na Miesies Jones toe om haar te vra om haar lig op Vrydagaande af te skakel is onsuksesvol. Haar goeie Rooms Katolieke reaksie was : “Oh, this is so silly!”

Die enigste waardige oplossing vir mans in manelpakke en hoede is om Miesies Jones se lig te probeer omseil.

Ons staan op die stoep op Vrydagaande en sien hoe hulle rug teen die muur afbeweeg, of buk-kruip onderdeur die lig of leopard crawl om die sonde te vermy.

As die lig aangaan weet ons hulle het dit nie gemaak nie en dit volg gewoonlik met ‘n uitroep van “Harah” of “Lech lehizdayen” of “Leh Timzoz La’aPiphior!” As die lig afbly juig ons met ‘n “Mazel tov!”.

Ja die prys om die sonde te vermy is ook maar hoog.

ROSIGEMARYN (L’CHAIM!)

DIE SPIETKOP

Die hof is nie ‘n plek vir sissies nie. As dit goed gaan, gaan dit goed, maar as die wind van die gereg teen jou waai dan raak dit maar moeilik. Vat nou maar die storie wat ons kollega Blokkies nou die dag te vertelle gehad het.

Die feite is heel eenvoudig. Blokkies se klient ry in Trichardtweg in Boksburg Noord toe ‘n spietkop skielik voor hom verskyn, hand in die lug. In die breukdeel van ‘n sekonde voor hy die spietkop tref, erken hy hom as Oom Manie Smit, een van die mees gehate spietkops van die kontrei.

Die reg kom in volle mag op Blokkies se klient neer. Die Staat vra vir Strafbare Manslag en tronkstraf.

Vusi Maseko, Oom Manie se kollega wie saam met hom die lokval beman het getuig hoe Oom Manie die oortreder binne ‘n redelike afstand probeer aftrek het, voordat Blokkies se klient Oom Manie geweldadig deur die Jordaan gestuur het. Rosigemaryn wil nie hare kloof nie, maar dit blyk asof Vusi ‘n lid is van die Metro Polisie en Oom Manie ‘n spietkop was. Julle weet wat ek bedoel.

Soos die Staat hulle getuienis aanbied blyk dit asof Blokkies se klient so half aspris Oom Manie wou doodry. Dinge lyk beroerd vir Blokkies se klient.

Blokkies sien in sy geestesoog die inskripsie op Oom Manie se grafsteen ” Killed by a reckless driver by doing 85,5 km an hour in a 60 zone. RIP.” Hy sien hoe sy klient tronk toe gaan vir iets wat meeste mense in Boksburg al lankal wou doen.

Die Staat maak die pap dik aan. Hulle roep Elize van Elize’s Hair Fashions voor wie se salon Oom Manie die ewigheid ingestuur is. As onafhanklike ooggetuie bevestig sy Vusi Maseko se weergawe.

Met die kruisverhoor van Elize en half uit desperaatheid uit breek Blokkies ‘n ongesrewe advokatuursreel en vra ‘n vraag waarop hy self nie die antwoord ken nie.

“Nou Mevrou, hoekom kyk u in die straat af terwyl u besig is met ‘n klant se hare?”

Elize van Elize’s Hair Fashions spreek toe die volgende gevleuelde woorde ” Ek se al heel oggend vir Joey, my assistent: Die manier wat daardie mannetjie voor die karre inspring, gaan hy vandag nog getrap word!”.

Ja wat, die waarheid het partykeer ‘n vreemde manier van uitkom.

ROSIGEMARYN ( TERUG VAN VAKANSIE)

OM TE ROOF…

Verlede Vrydag het ‘n welgeklede witman met ‘n swart pak skielik uit sy motor gespring in Jeppestraat, Johannesburg, en ‘n jong swart man tussen die skares uitgeruk en hom wreed aangerand en hom van sy BlackBerry beroof.

Die arme jong man het sy broek natgemaak en sy hemp is in die geweldadige proses van sy lyf geskeur. Die aanvaller was die enigste bleek gesig tussen duisende voetgangers.

Die arme slagoffer het waarskynlik verskeie gesig- en kopbeserings opgedoen nadat sy kop herhaaldelike male kennisgemaak het met sy aanvaller se harde kniekop.

Die slagoffer het verskrik die skares ingehardloop en is nog steeds vermis.

Die aanvaller, moet Rosigemaryn bieg, was Wynruit gewees.

Wynruit was op pad huis toe vanaf die Hooggeregshof toe Rosigemaryn hom bel. Wynruit kla dat hy in Dante se Inferno is. Die verkeer is erg en die taxi’s ignoreer elke reel in die boek. Hy se dit is ‘n malhuis. Die gesprek het ‘n paar sekondes geduur toe daar ‘n moles uitbreek. Van toe af was Rosigemaryn aangewese op byklanke soortgelyk aan die wat in Staal Burger te hore was. Rosigemaryn hoor voetstappe soos iemand wat hardloop en woorde soos “ Fokkerrrr!” en daarna ’n  Doef-doef-doef en mense wat histeries skreeu.

Na sowat drie minute is Wynruit, uitasem, weer op die lyn. Hygend vertel hy my wat gebeur het.

Hy was vasgevang in ‘n verkeersknoop in die midddestad van Johannesburg toe ‘n vuil swart hand deur die half oop venster sy selfoon uit sy hand uit gryp. Die jong man het skynbaar daarna nonchalant in die skare ingestap.

Dis toe dat Wynruit sy moer behoorlik strip. Hy probeer eers die man op die sypaadjie doodry sonder om die ander duisend voetgangers raak te ry. Dit het nie so goed gewerk nie.

Hy abandoneer toe sy voertuig , deure oop in die middel van ‘n kruising en sit die man agterna tussen taxi’s en karre deur. My fifty-something man, haal  hom uiteindelik  in en gryp hom van agter en roof sy BlackBerry met die nodige geweld  terug.

Toe hy by die huis kom was hy die ene adrenalien en testosteroon. Rosigemaryn moes bont staan vir ‘n dag of drie, maar het nie omgegee nie.

ROSIGEMARYN (CRIME DOES NOT ALWAYS PAY)

NOSTALGIE

Rosigemaryn besef met ‘n skok dat die jare aanstap en dat Boeta nog net bietjie meer as drie jaar op skool sal wees. (Dit is nou hopelik).

 

Die skoolroete is deel van Rosigemaryn se lewe en soos met baie dinge, gaan jy skool toe om ‘n vergadering of sportbyeenkoms by te woon of jou kind op en af te laai sonder om veel van die skool se omgewing in te neem. Die skool word maar net een van die vele geboue wat jy besoek.

 

Vandag het Rosigemaryn ‘n toer van die skool onderneem en rustig deurgestap en foto’s geneem sonder die warboel van kinders.

 

Die ingang na die oorspronklike skoolgebou opgerig in 1898.

 

 

 

 

Eduardo Villa beeldhouwerke is aan die skool toevertrou en word oral uitgestal.

 

 

 

‘n Eduardo Villa beeldwerk van Dawid met Goliat se kop wat langs hom lê:

 

 

Nog ‘n beeld van ‘n skoolseun met ‘n arend. Die beeldhouwerk is al deur die oposisie, KES, gesteel en op die M1 snelweg gevind.

 

‘n Nuwe vleuel, ontwerp om by die oorspronklike Herbert Baker skoolgebou aan te pas.

 

 

 

Die kloktoring wat die eetsaal en kapel verbind is in 1930 voltooi. Die oorlosie is meganies en word een maal ‘n maand deur die hoof van Wiskunde gestel.

 

 

Die “Pelikan Quad”. Die beeldhouwerk is ‘n replika van een wat in Oxford staan.

 

 

Die uitsig oor Burger Field vanaf die Pelican Quad.

 

 

Die skool se kapel, voltooi in 1925. Teen die mure is ererolle van oud skoliere wat in die Eerste en Tweede Wêreld Oorloë gesneuwel het. Die kapel word deur die skoliere as die hart en siel van die skool beskou.

 

 

Die eetsaal, Darragh Hall, met vlae van die verskillende huise.

 

 

 

Mens wag net vir Harry Potter om sy verskyning hier te maak.

 

 

Die klein museum van die skool, met oorspronklike bywoningsregisters, skrywes van skoliere en onderwysers aan die skool tydens oorlogstye en oud skooluniforms.

 

 

 

Hierdie foto van die skool is geneem vroeer die jaar tydens die rugby seisoen.

 

 

 

ROSIGEMARYN (LUX CARITAS VITA

DIE GEMENE DELER(SLOT)

Waar was ek…..? O, Ja.

 

Ons heldin staan weer voor die kansel, hierdie keer met Sid-Slapie-Springbok-Senter in die Boniface Anglikaanse Kerk, Germiston op 21 Januarie 1931. Dit is ‘n pragtige kerk, ontwerp deur Sir Herbert Baker en as julle ooit in Germiston kom, doen die moeite om na die kerk te gaan kyk.

 

 

 

Ons bruid was vyf-en-veertig en Sid sewe-en-veertig. Sy was nie meer die blosende Engelse Roos nie aangesien haar persoonlike tragedies en lang ure in die son by begrafnisse sy tol begin eis het. Volgens oorlewering het sy daarvoor gekompenseer met haar behendigheid en entoesiasme tussen die lakens.

 

Toe sy voor die kansel staan het sy nie geweet dat sy net sowat een jaar en elf maande oorgehad het om te leef nie. Rosigemaryn wonder, terwyl haar seun Rhodes wat saam met haar in die kerk was, of sy ma geweet het dat Rhodes voor haar sou doodgaan.

 

Na die troue trek ons heldin en Sid na huis nommer 19 by die Simmer & Jack Myn, waar Sid as ‘n loodgieter gewerk het. Rosigemaryn het die huis probeer opspoor, maar dit is skynbaar gesloop.

 

Die jong Rhodes het in hierdie tyd lastig begin raak. Hy was gereeld sonder werk en het nie met Sid oor die weg gekom nie. Hy en sy ma het gereeld baklei, veral oor geld. Sy het om egter steeds bederf en onderhou (mommy dearest).

 

Toe die jonge Rhodes in Bremersdorp (nou Manzini) in Swaziland gaan werk het, het sy ma selfs vir hom gaan kuier gewapen met tuisgebakte koekies. Met haar kuiers word die jong Rhodes siek met maagkrampe, pyn en naarheid. Die heldin met haar ervaring van siektes en sterftes, laat hom ‘n testament teken, waarvan sy die enigste begunstigde was.

 

Jong Rhodes word afgedank en keer terug na die Rand toe, waar hy saam met sy ma en Sid bly. Dit is die een werk na die ander. As hy werk, pak sy ma vir hom lunch boxes en ‘n fles koffie. Op 4 Maart 1932, stort Rhodes ineen by die werk met maagkrampe, pyn, koors en naarheid en word huis toe gestuur waar sy ma hom versorg. Hy sterf ‘n aaklige dood op 5 Maart 1932.

 

Ons heldin staan weereens langs ‘n oop graf in Brixton Begraafplaas en Rhodes word saam met sy pa, Alf in dieselfde graf begrawe, langs Bob Sproat.

 

Ons heldin het darem, behalwe los bates, ‘n honderd Pond geerf vanuit ‘n polis wat sy vir hom uitgeneem het toe hy elf jaar oud was.

 

In Mei 1932, word ons heldin, Daisy Louisa de Melker, (voorheen Sproat, voorheen Cowle, amper Fuller, gebore Hancorn-Smith) gearesteer vir die moord op Rhodes, Alf en Bob.

 

 

 

William Sproat, broer van Bob, het die polisie oortuig dat hier gemene spel betrokke is. Die drie mans word opgegrawe en Professor Watt van die farmakologie Departement van Wits, vind arseen en strignien in al drie se oorskot.

 

 

 

Die storie is hoofnuus in die koerante, tabloid styl. ‘n Apteker, Mnr Spilken van Turffontein kom na vore. Hy onthou dat Daisy (wat hy geken het uit haar Turffontein dae) op 25 Februarie 1932 by hom arseen gekoop het om wilde katte dood te maak. Sy het die gifregister geteken as Daisy Sproat. Mens wonder darem waarom sy die moeite gedoen het om buite haar area arseen te koop en sy nie liewer ‘n plaaslike apteek besoek het nie.

 

Nog ‘n jong man kom na vore. Sy naam was James Webster. Hy het erg siek geword op 4 Maart 1932 toe hy ‘n koppie koffie uit Rhodes se blou koffiefles gedrink het wat deur Daisy voorberei was.

 

Die blou fles word gekry by Daisy se huis en beide die fles en hare en naels van James Webster bevat arseen.

 

Daisy is gedurende die verhoor by die Ou Fort in Braamfontein, Johannesburg aangehou in die “European” gedeelte vir vroue. Rosigemaryn het met ‘n onlangse besoek aan die Ou Fort hierdie foto geneem. Daisy se sel was die een heel links.

 

 

Die moordverhoor begin op 17 Oktober 1932. Judge L. Greenberg presiding…… saam met sy twee assesore, Landdroste Stanford en Graham.

 

 

 

Daar was nie ‘n jurie nie. In daardie dae kon ‘n beskuldigde kies om ‘n jurieverhoor of slegs ‘n verhoor met ‘n regter en assesore. Daisy was verteenwoordig deur twee jong maar dinamiese advokate, H Morris en die legendaries Izzie Maisels wie later jare diep spore in die Suid-Afrikaanse reg sou trap.

 

Die verhoor was ‘n sirkus en het veertig dae geduur. Sitplekke in die hof is verkoop vir geld. Almal wou daar wees. My oupa, wat gefassineerd was met die reg en die saak, het die verhoor bygewoon. Rosigemaryn is vertel dat Daisy deurgaans koorsig nota’s gemaak het en indien sy nie met ‘n getuie se getuienis saamgestem het nie, hardop geskreeu het “Liar, liar!!”.

 

 

Daisy het haar soos ‘n Hollywood ster gedra wie die skares toegewuif het of op hulle geskel het. The heroine in her own drama. Dit het gelyk of sy die aandag geniet het en nie die erns van die saak besef het nie.

 

 

 

Haar regspan was egter nie so optimisties nie. Toe ‘n kollega vir Morris se dat Daisy “highly strung” is het Morris gereageer deur te se “not as highly strung as she is going to be”.

 

 

 

Toe Regter Greenberg haar skuldig bevind op die moord van haar seun en haar die doodstraf ople, het Daisy doodsbleek geword. Sy is bleek-bleek begelei na die Pretoria Sentrale Gevangenis waar sy tereg gestel sou word.

 

Interessant is dat sy slegs skuldig bevind is op die moord van haar seun. Die Kroon kon nie bewys dat Daisy haar twee mans arseen en strignien toegedien het nie. Regter Greenberg was ‘n slim man en Rosigemaryn dink hy het as volg geredeneer:

 

“Why convict the bitch of three murders and give her three death sentences, when one will suffice.”

 

Herman Charles Bosman wat in hierdie tyd die redakteur van sy koerant, The New Sjambok, uitgegee het, het luidkeels teen die doodstraf geskryf. Hy was immers self in die dodesel vir die moord op sy stiefbroer. Maar Bosman, het soos altyd die draak met die establishment gesteek en die volgende koeplet in sy koerant gepubliseer oor Daisy:

 

“Daisy, Daisy, give me some arsenic, do

“I’m half crazy to leave all my dough to you.”

 

Hy was ook uitgesproke teen die vrouens se reaksie oor Daisy. Hy het gese:

 

“She had at least succeeded in getting three husbands. This made her definitely unpopular with women who couldn’t even get one. They are jealous of her. It is right that they should be jealous of her.”

 

Die reg se wiele het destyds baie vinniger gedraai as vandag en Daisy Louisa de Melker is Oujaarsdag 1932, soos deur die regter beveel, gehang aan haar nek tot sy dood is. Sy is begrawe sonder seremonie in ‘n ongemerkte graf.

 

 

 

Nou kom die vrae wat Rosigemaryn pla. Het sy haar twee mans en verloofde vermoor? Beslis. Dieselfde simptome. Almal vrot van die strignien en arseen en waarskynlik die verloofde ook. Die kinders, Eric en Lester van vier en vyf jaar oud? Waarskynlik. Dieselfde simptome as die ander. Die tweeling babas? Dalk, miskien of nie. Daar is geen rekords oor hulle nie.

 

Motief? Dat sy goeie boedelbeplanning gedoen het is sonder twyfel. Sy het geld geerf by die volwassenes. Regter Greenberg het ook gewonder oor motief, maar wou nie spekuleer nie en het bevind dat by vooraf beplande moord, motief nie belangrik is nie.

 

Rosigemaryn dink nou aan ‘n ander motief wat gekoppel is aan die geld maar wat nerens in die verhoor of deur skrywers geopper is nie. Die motief van negatiewe aandag. So ‘n soortvan Munchaunsen by proxy. Daar was met die siektes, doktersbesoeke en sterfgevalle baie aandag en simpatie gewek. Sy was die ewige slagoffer. Sy kon haar slagoffers met een dodelike dosis binne een dag doodmaak. Sy het nie. Hulle gesondheid het rollercoaster gespeel. Siek, gesond, siek, gesond, dood. Het sy een of ander sadistiese behae geskep om god te speel en te weet dat haar slagoffers se lot in haar hande was? Of wou sy net die simpatie van haar gemeenskap wek?

 

En die arme Sid wie se van vir ewig besmet is? Wel hy het in haar onskuld geglo tot die einde toe en by haar gestaan. Hy is daarna twee keer getroud en is aan natuurlike oorsake sonder maagpyn oorlede.

 

Na ‘n onderhoud met Sid-Slapie by huis nommer 19 by Simmer & Jack het Bosman die volgende wonderlike opmerking geplaas:

 

” I knew what was wrong. This place was trying to hide the grandeur of crime under the indecent things of middle-class respectability. Crime is always tarnished when it has to rub shoulders with the mob’s idea of virtue.”

 

En die slagoffers, Alf, Bob en Rhodes? Wel toe ons laas Sondag Brixton begraafplaas toe is, het ons drie grafstene langs mekaar verwag. Dit was ‘n moerse gesoek na hierdie grafte. Boeta en Oogappel, elk gewapen met ‘n papiertjie met die name op, het help soek na die grafte. Oogappel het die grafte gevind.

 

Daar was net een grafsteen opgerig vir al drie mans, met die volgende chilling inskripsie daarop:

 

 

FINIS

 

GEMENE DELER (2)

Om ‘n verloofde, twee mans en vyf kinders te verloor sal deur baie mense as uiters agtelosig beskou word, maar onse Me Hancorn-Smith was nie juis die nalatige tipe nie.

 

Ons tragiese “heldin” is op 1 Junie 1886 gebore op ‘n plaas buite Grahamstad as die sesde van elf kinders. Britse ouers en als, baie emperialsties en koloniaal groot geword, met ‘n groot haat vir “natives” en boere. Was glo ‘n oulike kind en toe haar ouers in Rhodesie gaan woon het, het sy in die Kaap skool gegaan. Op sewentien en terug in Rhodesie ontmoet sy vir Bert Fuller, ‘n offisier in die Britse leer.

 

Hierdie groot liefde word onderbreek toe sy vir drie jaar haar in Durban gaan kwalifiseer as verpleegster.

 

Bert se goeie inkomste, bediendes, motors, woning en sexy uniform was vir haar ‘n groot aantrekkingskrag. Na haar opleiding in Durban en terug in Rhodesie sou sy en Bert op 2 Maart 1907 trou. Bert is intussen verplaas na Matetsi, ‘n klein plekkie in die boendoes naby Vic Falls. Sy het nie gehou van die boendoes nie. Sy wou die troue uitstel vir twee redes, naamlik, sy wou nog drie maande opleiding doen om te kwalifiseer in Suid-Afrika en Bert het skielik siek geword met koors en ingewande pyne. ‘n Dag of wat nadat sy vertrek het Suid-Afrika toe moes sy terugkeer om langs Bert se graf te staan op hulle beplande troudag.

 

In terme van sy testament, erf sy ‘n handige bedrag geld.

 

Na ‘n paar draaie, land sy in Johannesburg. Twee-en-twintig en onafhanklik. Sy verpleeg in Johannesburg se Hospitaal.

 

Onse heldin ontwikkel toe ‘n fetish vir loodgieters. Rosigemaryn wonder of dit die oorpakke was, die growwe hande of die klankie wat aan hulle gehang het.

 

Op 3 Maart 1909, trou sy met Alf Cowle, ‘n loodgieter van die Isle of Man. Hulle is getroud in die kerk wat vandag bekend staan as die St. Mary’s The Less Anglican Church in Jeppestown. Dit is ‘n beskeie, maar ‘n pragtige kerkie en die oudste kerk in Johannesburg. Die kerk is in 1886 gebou en lyk vandag so van binne:

 

 

 

 

Terloops die naam is na “The Less” verander nadat die pragtige St. Mary’s Katedraal gebou is, een van die argitektoniese wonders van Johannesburg in Wanderersstraat, wat byne nooit meer besoek word nie vanwee die ligging van die kerk. Dit is ook toevallig die nonne en priesters van hierdie kerk wat Oogappel se skool in 1888 en ook Boeta se skool twee of drie jaar later gestig het.

 

Ek dwaal nou af.

 

Na hulle intrek in 22 Tulley Road, Turffontein en in 1910 skenk ons heldin geboorte aan ‘n tweeling. Die arme bloedjies sterf as babas “due to fragility”.

 

 

Op 11 Junie 1911, word hulle seun Rhodes Cecil Cowle gebore. Hy is haar “pride and joy”. Twee jaar later word Lester gebore en kort daarna Eric. Eric en Lester is ‘n paar weke uitmekaar oorlede op die ouderdom van onderskeidelik drie en vier jaar. Oorsaak van dood? Die een onbekend en die ander, so ‘n raaiskoot “abcess of the liver”.

 

Hier in 1915, besluit die Cowles om te trek na Bertrams. Die huis in Turffontein se Karma is nie lekker nie en dalk sal dit beter gaan in Terrace Road 67.

 

Maar hier slaan die noodlot weer toe. Arme Alf se ingewandes wou nie saamwerk nie. Van tyd tot tyd het hy erge buikpyne en sy gesondheid gaan agteruit. Alf sterf in 1923 in erge pyn. Die dokters reken dit was een of ander ernstige niersiekte.

 

Hy word begrawe in Brixton begraafplaas.

 

Ons heldin is darem nie haweloos nie en erf darem so eenduisend agthonderd Pond. Dit klink nie na veel nie, maar ‘n huis het in daardie tyd so driehonderd Pond gekos. In vandag se geld seker so R5 miljoen?

 

Shame die arme vrou. Nou is dit net sy en Rhodes en die eensaamheid.

 

Sy het soveel drome en hoop vir Rhodes gehad. Met haar nuutgevonde rykdom en omdat sy nie arm is nie, stuur sy hom na Hilton College in Natal. Hy spandeer een jaar daar waar hy skouspelagtig druip.

 

Terug in Johannesburg skryf sy Rhodes by Marist College in, waar William Foster van die Foster bende ook vroeer jare skool gegaan het. (Die skool is die voorloper van Sacred Heart College, wat in die laat twintigs gebou is net om die draai van waar ons bly en miskien moet Rosigemaryn gaan kyk of hulle name op die ererol verskyn.)

 

Dit het nie beter gegaan op die skool nie en het Rhodes skool op die ouderdom van sestien verlaat om homself as ‘n loodgieter te bekwaam.

 

 

 

 

RHODES CECIL COWLE

 

 

 

Sy snuffel toe nog ‘n loodgieter uit en trou met Robert Sproat (Bob) op 1 Julie 1926. (Dit is ook my en Wynruit se troudatum, maar nie dieselfde troujaar nie.) Bob was sestien jaar ouer as sy. Binne ‘n jaar na die troue begin Bob se gesondheid agteruitgaan, veral krampe en pyne in sy ingewande. Hy is byna op sy doodsbed toe hy die testament onderteken en sy broer William, teken as getuie. Hy herstel wonderbaarlik vir ‘n paar weke. In November 1927 is sy weer ‘n weduwee. Ons weduwee erf sowat vierduisend seshonderd Pond.

 

Bob word langs Alf in Brixton begraafplaas begrawe.

 

 

R.I.P. ROBERT SPROAT

 

Kort daarna, spin sy nog ‘n loodgieter in haar web vas. Sy naam was Sid, maar sy rugby bynaam was Slapie.

 

 

 

Hy was ‘n senter in Paul Roos se span in 1906/07 en het die Britse eilande saam met die Bokke getoer. Hy is hier in die mis te siene om sy spanmaat Stegman te ondersteun.

 

Ons heldin het al by sewe grafte gestaan. Daar wag vir haar nog een (of sal dit twee wees?)

 

ROSIGEMARYN (SOEKEND NA NOG ‘N GRAF OF TWEE)

 

DIE GEMENE DELER

Rosigemaryn en Wynruit met Boeta en Oogappel in tou, het vanoggend weer ‘n begraafplaas van Johannesburg ingevaar. Brixton begraafplaas het oopgemaak in 1912 toe Braamfontein begraafplaas te klein geraak het vir die afgestorwe burgers van die grote stad.

 

Die rede was eenvoudig om die karakters van ‘n “mooi storie” te besoek. Ons het na spesifieke grafte gesoek waar drie mans langs mekaar le.

 

Die verhaal van Me Hancom-Smith, is voorwaar ‘n tragiese een en strek oor 25 jaar. Die misterie strek oor twee poste, waarvan hierdie die eerste aflewering is.

 

Haar lewe, gevul met verlies het onder andere by die volgende huise afgespeel wat ons ook vanoggend besoek het en waarvan ons foto’s geneem het.

 

 

 

 

 

Terrace Road 67, Bertrams, en

 

 

 

Tulleystraat 22, Turffontein.

 

 

Die karakters, wat ‘n integrale deel van haar lewe gevorm het was onder andere die volgende:

 

 

 

 

Me Hancom-Smith                         ‘n Man                                             ‘n Seun (Rhodes)

 

 

 

 

 

 

 

 

‘n Springbok senter wat in 1906-1907 vir die Springbokke gespeel het en deel was van die Springbokspan hierbo.

 

 

Adv. Izzie Maizels

 

Regter Lionel Greenberg

 

 

 

Die ironie an die storie is dat Herman Charles Bosman ook sydelings betrokke is, sowel as Foster van die Foster bende.

 

En dan was daar ‘n ander karakter wie ons vanoggend in die begraafplaas ontdek het.

 

 

Ok, ok hy het niks met die storie te doene nie en het toevallig by sy graf verbygeloop. Mnr Piel, gaan asb. weg uit ons storie uit. Ons is besig met ernstige sake.

 

ROSIGEMARYN (PRE PIET BOTHA)

SEPTEMBER 1914 (DEEL II)

Die man wat die moeilikheid veroorsaak het was William Foster. Gebore in 1886 in Griekwaland-Oos as die derde van ses kinders. Op die ouderdom van veertien, trek die familie Johannesburg toe. Foster woon die Katolieke Marist Brothers in Johannesburg by en hou belofte in as student en ook as sportman.

 

 

Na skool bekwaam hy hom as ‘n myn landmeter en fotograaf. Onverklaarbaar verval hy toe in ‘n loopbaan van “petty crimes”. Dit wissel van steel van donkies tot diefstal van onbenullighede en ontsnappings.

 

Ongeveer 1910/1911 ontmoet hy Penny Korenico en raak hals oor kop verlief op haar. Sy was nogal ‘n “chorus girl”. Hy wil graag met haar trou maar wil eers sy fortuin maak. Hy is toe Engeland toe vir ‘n ruk, waar hy toe nie sy fortuin gemaak het nie. Met sy terugkoms ontmoet hy en nog ‘n vriend van hom, Adamson, ‘n Amerikaner, John Maxim wat toe in die sirkus werk as skerpskutter en ‘n rodeo cowboy.

 

Maxim het ook ‘n begeerte om vinnig geld te maak en leer Foster die fynere kuns van skyfskiet, motorfiets toertjies en vermomming. Die trio besluit om die American Swiss juwelierswinkel in Kaapstad te roof. Foster laat sy jonger boetie Jimmy Foster kom om te help. Hulle roof twee tasse vol juweliersware wat insluit 308 diamante. Maxim laat spaander Johannesburg toe en die ander drie word gevang en tronk gestuur, elk 12 jaar harde pad in Pretoria Sentraal. Kort voor Foster se gevangesetting trou Foster met Peggy en die polisie gun hulle een uur in ‘n hotel vir wittebrood wat hule goed gebruik en hulle dogterjie word verwek.

 

In Februarie 1914 ontsnap Foster uit die tronk en Maxim, Peggy en ‘n nuwe trawant, Carl Mezer, sluit by hom aan. Die drie rampokkers begin poskantore en drankwinkels roof. Op 17 Julie 1914 probeer hulle onsuksesvol om by die Nasionale Bank, Boksburg in te breek gedurende die nag. Die arme kroegman, Alex Charleson, op diens by die Boksburg-Noord Hotel hoor geluide en word dood geskiet toe hy ondersoek wou instel.

 

Daar word na hulle gesoek en ‘n losprys is op hulle koppe. Hulle le laag en vermy arrestasie deur vermomming.

 

Op 13 September 1914, breek hulle by die Big Bottle Store in by Doornfontein en slaan ‘n polisieman bewusteloos wat ondersoek instel.

 

Die volgende oggend om streeks vier uur, word hulle betrap by die Imperial Drankwinkel en polisieman Neil McLeod word deur Foster doodgeskiet. Die bende vlug.

 

 

Later word ‘n ander polisieman, Mansfield, dood aangetref. Hy was besig om geluide by die drankwinkel te ondersoek.

 

 

Doe polisie ontvang ‘n leidraad dat die bende in ‘n huis wegkruip te Regentspark. ‘n Paar polisiemanne, onder leiding van Speurder Mynott, konfronteer hulle en Mynott word doodgeskiet. Die bende met Peggy en die baba, vlug verder. Peggy en die baba neem later ‘n bus na Germiston en die boewe vind skuiling in ‘n grot in Kensington (vooraf toegerus met kos, water en ‘n parafienlamp).

 

 

Intussen loods die polisie ‘n soektog na die bende en padversperrings word oral aan die Rand opgerig. Snuffelhonde tel die spoor van die bende op en die bende word vasgekeer in die grot.

 

 

Leech, ook ‘n polisieman, hoor dat Grace doodgeskiet is by ‘n padblokade en skakel alle stasies om die “shoot to kill”-instruksie te kanseleer, aangesien die Foster gang nou vasgkeer is. Hy sukkel ‘n halfuur om deur te kom na Langlaagte stasie en spring later, reeds onsteld oor die Grace voorval, op sy motorfiets en jaag Langlaagte toe. Net te laat, De La Rey is reeds doodgeskiet.

 

Die oggend van 16 September 1914, word ‘n skoot in die tonnel gehoor. Dit blyk later dat Mezer op sy versoek deur Maxim geskiet is. Foster laat weet die polise dat hulle sal oorgee nadat hy eers vir Peggy en die baba gesien het. Leech oortuig sy seniors om gehoor te gee aan Foster se versoek.

 

 

Later word Peggy met die baba en Foster se familie in die grot toegelaat. Foster se ouers verskyn uit die grot met die Foster baba. Peggy het besluit om agter te bly.

 

Daarna word drie skote gehoor uit die grot uit. Maxim het Foster en Peggy geskiet en toe homself.

 

Hier le die bende nou in ongemerkte grafte in Braamfontein se begraafplaas. Peggy en Foster saam en die ander twee langs hulle. Daar is nie grafstene vir hulle nie. Die polisiemanne le ‘n paar meter verder, almal saam. Leech het berou gehad oor Grace en De La Rey se dood en dat hy toegelaat het dat Penny die grot ingaan. Hy het selfmoord gepleeg.

 

 

 

My en Wynruit se nuuskierigheid het begin by oorvertellings van die Foster Gang en die grot in Kensignton waar hulle vasgekeer was en later dood is. Ons wou net gaan kyk het waar die grot was en bietjie meer oor die bende te wete kom. Toe kom ons agter hoe oorsaak en gevolg sy misterieuse web spin.

 

Wat as? Wat as De La Rey nie doodgeskiet was nie, en dalk Beyers? Of wat sou die Rebellie se uitkoms dan gewees het? Wat as nog De La Rey, nog Beyers doodgeskiet was, sou Beyers nog steeds in die Vaalrivier verdrink het? Wat as William Foster net sy loopbaan voortgesit het as fotograaf of Landmeter? Wat as….?

 

Post script:

 

Ons het Sondag belaglik gelyk toe ons oor amper elke huis in Junotstraat, Kensington se mure en hekke hang om twee peperbome op te spoor. Volgens oorlewering le die grot (wat oorspronklik ‘n prospekteerstonnel was) tussen twee peperbome op ‘n privaat eiendom. Ons vertrou hierdie is die regte plek:

 

 

 

 

ROSIGEMARYN (DE LA REY)

SEPTEMBER 1914

In die vroee 1900’s, waag Siener van Rensburg die volgende profesie:

 

1. Die nommer 15 teen ‘n donker wolk waaruit bloed drup;

 

2. Die Generaal sonder sy hoed;

 

3. ‘n Geel boks wat deur die regering aan Lichtenburg gestuur word;

 

4. ‘n Donker wolk wat oor Lichtenburg hang;

 

5. ‘n Wa bedek met mooi bomme.

 

Generaal Koos De La Rey, wie saam met Generaal Beyers op pad Potchefstroom toe was om die rebellie van 1914 te beplan, word in Langlaagte by ‘n Polisie padblokade, doodgeskiet op 15 September 1914.

 

 

Hieronder is die plek voor Langlaagte stasie waar Generaal De La Rey geskiet is. Die plaak net regs van die verkeerslig is nie meer leesbaar nie.

 

 

 

Sy lyk word geneem na Braamfontein Lykshuis waar ‘n post mortem uitgevoer word en sy lyk gebalsem word. Daarna word sy lyk in ‘n geel kis per trein deur die regering Lichtenburg toe gestuur vir die begrafnis. Sy begrafnis word gekenmerk deur onaangename voorvalle en die wa is bedek met die Republikeinse vlae en blomme. Voor die Generaal se dood, het die wind sy hoed weggewaai en is nooit weer gevind nie.

 

Die ironie van sy dood is dat De La Rey kort voor die skietvoorval plekke in die voertuig met Beyers geruil het sodat De La Rey se pyprook nie vir Beyers moet pla nie. Die koeel was afgevuur deur ‘n konstabel, gemik op die bande van die motor en het van die teerpad opgeslaan en De La Rey in die hart getref. Die arme konstabel, toe hy uitvind wie hy geskiet het, het in trane uitgebars en uitgeroep “God have mercy on me!”.

 

Die tragedie van 15 September 1914, begin en eindig nie hier nie.

 

In Germiston, jaag ‘n dokter na die Springs hospitaal om ‘n operasie uit te voer. ‘n Polisie padblokade versper sy roete en hy jaag om die versperring. ‘n Polisieman, vuur twee skote af, die een skoot tref sy vrou in die arm en die ander wond die dokter noodlottig. Sy naam was Dr. Gerald Grace, vroeer ‘n burgemeester van Springs en die broerskind van die legendariese Britse krieketspeler Dr. WG Grace.

 

 

 

Die legendariese Britse krieketspeler Dr. WG Grace is hieronder te sien.

 

Die volgende dag pleeg ‘n mooi jong ma selfmoord en laat ‘n vyf oue maande dogterjie wees.

 

 

 

Twee maande tevore (17 Julie 1914) word die kroegman, Alex Charleson van die Boksburg-Noord Hotel, (wat nog bestaan) doodgeskiet. Op 7 Oktober 1914, pleeg Leech, ‘n polisiebeampte, selfmoord uit skuldgevoelens oor hoe hy ‘n situasie van 15 en 16 September 1914 hanteer het.

 

 

Nog is het einde niet. Hier onder die ou bome van die Braamfontein begraafplaas (wat ek en Wynruit  besoek het) le daar nog ses ander mense wie geweldadig gesterf het op 13, 14,15 en 16 September 1914. Almal se noodlot op ‘n vreemde manier inmekaar geweef in dieselfde storie.

 

 

Hierdie pos raak nou lank en alhoewel ek nie geneig is om vervolgverhale te skryf nie, sal ek in my volgende pos onthul wat ‘n Amerikaanse Cowboy, die ses ander lyke en almal hierbo genoem, met mekaar in gemeen het.

 

Ek en Wynruit het gedink dat ons bloot net ‘n rustige uitstappie op ‘n mooi dag in ons buurt en oudste begraafplaas in Johannesburg gaan geniet om ‘n eenvoudige storie te vertel. Min het ons besef dat hierdie verhaal amper soos ‘n ui is, wanneer jy die een laag afskil, kom die ander na vore.

 

ROSIGEMARYN

 ‘n Ou pos van ‘n ander forum

Post Navigation