rosigemaryn

Suburbia

BOSMAN MIDDAG

Wynruit het vanmiddag reeds vroeg klaar gewerk. Ek betrap hom dat hy heel geheimsinnig die Johannesburgse padkaartboek soek en die GPS uitgrawe. Hy se dat ek my werk moet klaarmaak want ons gaan bietjie rondry.

 

Ek merk dat hy ‘n klomp adresse neergeskryf het. Al die adresse is aan die oostekant van Johannesburg, ons kant van die dorp.

 

Uiteindelik trek ek dit toe uit hom uit dat ons ‘n bietjie in Herman Charles Bosman se spore gaan loop.

 

Wynruit het my die waardering vir Herman Charles Bosman se skryfwerk geleer. In my opinie fassineer Herman Charles Bosman se persoonlike lewe my meer. Hy was ‘n aardsboheem wat geen respek vir reels en die establishment gehad het nie. Hy was, om dit onomwonde te stel, ‘n menace to society, tog ‘n kleurvolle een.

 

Ons soek toe heel eerste nommer 14 Gracestraat, Jeppestown. Dit is waar Bosman gebly het nadat hulle uit Potchefstroom getrek het. Hy was toe 13 jaar oud in 1918. Die GPS kon ons nie tot by die adres toe lei nie, want Gracestraat is op plekke toegemaak en die naaste nommer wat ons kon kry was nommer 24. Vind toe dat waar nommer 14 moes wees is daar nou lae koste behuising en is dit ‘n slum area. Net om die hoek, kom ons op hierdie juweeltjie af. Seker maar die hoek kafee gewees waar Bosman lekkergoed gekoop het (of sy eerste sigaret).

 

 

 

 

Hy was ‘n skolier by Jeppe Preparatory (toe genoem Jeppe Central) en van 1919 was hy in Jeppe High (nou Jeppe Boys High) en dit is hoe dit nou daar lyk. Nog steeds ‘n goeie skool met ‘n wonderlike tradisie.

 

 

 

Ons volgende stop was 19 Isipingostraat in grillerige Yeoville. Hierdie adres is van uiterste belang in Bosman se geskiedenis aangesien dit die huis is waar hy sy stiefbroer David Russel doodgeskiet het op 19 Julie 1926. Hy is skuldig bevind, het die doodstraf ontvang maar is later begenadig (vandaar sy wonderlike Cold Stone Jug). Beter geluk die keer en op links is die huis soos hy vandag lyk en op regs is die polisie foto van die misdaadtoneel binne in die huis. Wonder of die Nigeriers wat daar woon van hierdie feit bewus is.

 

 

 

Ons volgende adres wat ons soek is 16 Sovereignstraat, Kensington. Teleurstelling. Daar is meenthuise opgerig waar die huis moes wees.

 

 

 

 

 

Gelukkig is die kompleks ook na ‘n skrywer vernoem en die ironie van die saak is dat Bosman van hierdie adres getrek het na Miltonstraat Lombardy Oos waar hy ‘n kort rukkie gebly het tot met sy dood in 1951. Hierdie adres kon ons nog nie opspoor nie.

 

Ons wandel dalk elke dag onbewustelik in sy voetspore en deel tien teen een sy ou watergat synde die Radium Beer Hall, een van die oudste kroee in Johannesburg. Hy en sy drinke broer en mede boheem, die kunstenaar en skrywer, Gordon Vorster het na oorlewering gereeld daar gekuier in die dertiger jare, net om daarna in ‘n beskonke toestand Sylvia’s Pass uit te stap. Bosman het beweer daar is spoke in die klippe van die pas. Ons bly nie ver van die bopunt van die pas nie. Ons huis is in die dertigs gebou en was die buurt destyds nuut. Hy het ook tien teen een voor ons huis verby gestap op pad Saratoga Court toe in Bellevue omdat hy byna nooit ‘n kar gehad het nie.

 

Hoe dit ookal sy, ek en Wynruit het ‘n mooi sagte namiddag gehad en het nog ‘n klomp adresse op die lys, navorsing om te doen en ‘n begraafplaas om te besoek.

 

Soos Gordon Vorster van sy vriend gese het:

 

“Bosman was a man, a woman, an angel, a devil, a tenderness, a cruelty, a brave man and a coward, an emasculated satyr, a womaniser, a racist and a liberal. He searched for purity in filth, and, like Wilde, found stars in the gutter.”

 

 

 

 

ROSIGEMARYN (BOHEEM)

Single Post Navigation

3 thoughts on “BOSMAN MIDDAG

  1. Ek dink onwillekeurig ook aan Eugene Marais as ek hierdie lees. Kan nie wag vir Die Wonderwerker nie.

  2. Nou gee jy my mos ‘n idee! Groete!

  3. Nou waar het jy die tannies met die oulike outfits hier links afgeneem ?

Lewer kommentaar